Wanneer jy in Britstown is, dan weet jy waar jy is, want jy was só lanklaas by ’n ander plek dat jy vir seker aandag gaan gee wanneer jy Britstown binnery. De Aar lê 54 km oos met die N10, Vosburg 65 km wes met die R384, Victoria-Wes 107 km suidoos met die N12, en Strydenburg 78 km in die teenoorgestelde rigting. Prieska? 133 km weg!
Jy is ook heel moontlik honger wanneer jy hier aanland. Dalk is jy ’n stedeling, gewoond aan goed soos cappuccino’s, en wonder waar jy iewers in die Noord-Kaap ’n bietjie stadstroos kan opspoor?
By Talita Pringle se The Old Mill Coffee Shop is jy in goeie hande. Sy en haar man, John-Paul, het hoeka ’n vierdagbaristakursus gaan loop op Jeffreysbaai. Dinge is dus amptelik,…
